Oor Stoep
Die stoep was nog altyd die plek waar ons saamkom: koffie in die hand, die bure wat inloer, iemand wat 'n storie vertel wat almal al ken en tog weer wil hoor. Stoep is daardie plek, maar dan aanlyn, vir Afrikaanse mense hier en oral oor die wêreld.
Ons begin by die kombuis, want dis waar baie van ons herinneringe lê. Ouma se melktert, die beskuit in die blik, die potjie wat oupa elke Desember gemaak het. As ons dit nie neerskryf en deel nie, raak dit stilletjies verlore. Maar Stoep gaan oor meer as kos. Dit gaan oor die mense agter die resepte, en daarom sal die stoep mettertyd groei.
Waar die eerste resepte vandaan kom
Die eerste resepte op Stoep is in ons eie woorde oorgeskryf uit Onthou jy nog? Praktiese en heerlike Voortrekker-resepte, 'n versameling wat Anna Eksteen in 2005 saamgestel het, en wat ook op die Peter-jasies-webwerf gedeel is. Die hoeveelhede is uit haar versameling; die bewoording is ons s'n. Ons is baie dankbaar vir haar werk om hierdie resepte te bewaar.
Hoe werk dit?
Enigeen kan aansluit en resepte deel. Gee 'n lepel op as 'n resep vir jou smaak, of 'n lepel af as dit nie jou koppie tee is nie. Wys jou eie foto as jy iemand anders se resep gemaak het, en vertel in die kommentaar hoe dit gegaan het.
Hou dit vriendelik. Ons is almal gaste op mekaar se stoep.